ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Dit is ernstig, maar geen rede tot paniek nie

Date: 13 March 2020 By: Andries van Zyl

Is daar rede tot paniek met die bevestiging van Suid-Afrika se eerste Covid-19 gevalle of word daar ‘n berg van ‘n molshoop gemaak oor die uitbreking?

Louis Trichardt se dr. Casper Venter het dit Dinsdag mooi opgesom tydens ‘n onderhoud met die Zoutpansberger. “Ek het nou die dag ‘n baie goeie Tweet gesien: ‘No, it is not nothing, and no, it is not the apocalypse. Can we take the middle road and stick to it? It is something serious’. Mens moet dit altyd ernstig opneem. Enige wêreldwye uitbreking moet jy ernstig opneem. Maar ernstig opneem beteken nie om paniekerig te raak nie,” het Venter gesê. Teen Dinsdag 10:40 was daar, volgens die webblad https://www.worldometers.info/coronavirus, 114 458 bevestigde Covid-19 gevalle wêreldwyd, met 4027 sterftes en 64 101 mense wat van die virus herstel het.

Volgens Venter moet mense derhalwe ingelig wees. “Jy moet voorbereid wees en jy moet besef jy is deel van die breër wêreld se gesondheidsgemeenskap. Om paniek te saai is nie voordelig nie. So, almal het ‘n rol om te speel,” het Venter gesê.

Venter het bietjie agtergrond gegee aangaande die virus. “Die virus is ‘n Coronavirus, en daar is sewe Coronavirusse. Vier van hulle veroorsaak verkoue en niks meer nie. Een veroorsaak SARS (Severe Acute Respiratory Syndrome) – ‘n uitbreking wat ons gehad het in 2002 wat 8 000 mense doodgemaak het in die wêreld en sedert 2004 het ons nog nie weer ‘n geval gehad nie. Die ander een is MERS (Middle East Respiratory Syndrome), wat ook baie mense siek en dood maak. Nou het ons die Novel Coronavirus (Covid-19), wat ‘n nuwe een is. Dit is wat dit beteken en dit kom van 2019. Dit is ‘n soönotiese siekte, wat beteken dit het van diere oorgespring na mense toe. Dit is hoekom niemand dit ken nie,” het Venter gesê.

Volgens Venter weet medici in hierdie stadium nog maar min van die virus, so hoe aansteeklik is dit? “As jy wil weet hoe aansteeklik iets is, dan praat jy van ‘n syfer van R0 (R nul). Influensa (griep, nie verkoue nie) se R0 is 1.3, met ander woorde elke ou met influensa steek gemiddeld 1.3 mense aan. Ons weet nog nie regtig nie, maar dit wil lyk of Covid-19 ‘n R0 van 2.3 het. So, hy is meer aansteeklik as ‘n gewone griepvirus,” het Venter gesê.

Terug na die vraag of daar rede tot paniek is, het Venter gesê dat daar tot Dinsdagoggend nog geen ‘vrystaande’ Covid-19 geval in Suid-Afrika aangemeld is nie. Al die gevalle is verbind met die sewe mense wat vanaf Italië gekom het. Hulle kontakte is opgespoor en ook in isolasie geplaas. “So, jy gaan nie in Louis Trichardt in die straat af stap en die Covid-19 virus inasem nie. Niemand het tot op hede die Covid-19 virus in Suid-Afrika opgetel nie. Almal was in Italië en het dit daar opgetel of het kontak gehad met die ou wat in Italië was. Dit is belangrik om te besef,” het Venter gesê.

Venter het nog ‘n belangrike aspek van die virus uitgelig en dit is dat jy nie noodwendig sal doodgaan daarvan nie. “Sowat 81% van mense herstel. Hulle kry ‘n ‘dik’ kop, bietjie van ‘n keelseer en hoes en hulle herstel gemiddeld oor 14 dae. Nagenoeg 13% raak ernstig siek en ongeveer 6% raak kritiek. Die pasiënte wat ernstig en kritiek word, het gewoonlik reeds ‘n ander immuun-onderdrukkende siekte onder lede, soos HIV, kanker met chemoterapie en diabetes mellitus, maar ook pasiënte met ander gesondheidsprobleme soos hoë bloeddruk en hartsiektes. Jou ouer pasiënte met baie probleme is dus uit die aard van die saak baie meer vatbaar vir die virus as jonger mense. In dié stadium lyk dit of kinders onder die ouderdom van 12, 14 dit minder kry, maar hulle kan dit kry. Dit lyk egter of hulle die virus onder die knie kry sonder om ernstig siek te word,” het Venter gesê.

Om dinge bietjie in perspektief te stel, het Venter verduidelik dat influensa (griep) 0.1% van mense doodmaak. “Met ander woorde, dit is redelik min, maar omdat so baie mense griep kry gaan baie mense in die wêreld in ‘n jaar aan griep dood. Sover [Dinsdagoggend] was daar omtrent 114 000 Covid-19 gevalle. Griep het al 1 miljard gevalle wêreldwyd doodgemaak ... Sover is daar meer as 4 000 mense dood aan Covid-19. In die VSA alleen maak griep jaarliks tussen  35 000 en 60 000 mense dood. Mens moet die dinge net bietjie in perspektief bring. Jy moet onthou, elke dag maak malaria 3 000 mense dood. Kanker, per dag, maak 26 000 mense dood. Kardiovaskulêre siektes, met ander woorde hartaanvalle, ensovoorts, maak 50 000 per dag wêreldwyd dood. Mense moet die balans hou,” het Venter gesê.

Nietemin het Venter weereens gesê dat Covid-19 nie net as iets niksseggend afgemaak moet word nie. “Dit is nie niks nie, maar rede tot paniek is daar nie. Dit is aansteeklik, maar die mortaliteit is merendeels by ons ouer pasiënte wat reeds ‘n ander onderliggende siekte het. Meeste mense wat die siekte kry, gaan huis toe gestuur word en by die huis gewone simptomatiese pille kry om te drink en binne 14 dae regkom. Die groot ding is, moenie kontak hê met mense nie. Die belangrikste ‘gevaldefinisie’ is dat jy kontak moes gehad het met iemand wat Covid-19 het. Dit is ‘n ernstige siekte, maar meeste mense herstel daarvan. As jy hom kry, gaan jy nie noodwendig dood nie, in vergelyking met die Ebola-virus. Daar is baie gevaarliker ‘goggas’ daar buite,” het Venter gesê.

Die virus vat gewoonlik tussen een tot vyf dae om simptome te toon, maar kan tot 14 dae neem. Die siekte is egter te alle tye aansteeklik. Wat moontlike Covid-19 gevalle betref, het Venter gesê hulle staan gereed om dit te hanteer. Om meer uit te vind oor die virus het Venter mense aangeraai om daaroor te gaan oplees. In dié verband is verskeie webblaaie beskikbaar wat besoek kan word, insluitend dié van die National Institute for Communicable Diseases (NICD), die Amerikaners se CDC-blad (Center for Disease Control and Prevention), die New England Journal of Medicine en dié van die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WHO). Op grondvlak kan mense ook hul deel doen om verspreiding van die virus te bekamp deur gereeld hande te was en dan kontak met die gesig te vermy. “Dit is almal se verantwoordelikheid om die siekte aan te meld as hulle dink hulle het die Covid019 virus opgedoen. En asseblief, gebruik die regte bronne om meer van die virus uit te vind. Bel jou dokter en praat met hom daaroor,” het Venter gesê. Hy het spesifiek verwys na mense wat in baie gevalle vals nuus op sosiale media platforms soos WhatsApp versprei.

Meegaande inligtingstukke is verskaf deur die NICD om mense in te lig oor die virus.

 

 
 
 

Viewed: 1438

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT