Wyle Jan Bonnema (68) en sy vrou Elise. Foto verskaf.

Jan se dood laat groot leemte in Levubu

Date: 21 August 2021 By: Andries van Zyl

Viewed: 2796

“Sjoe, dit is nou nog nie vir my werklik nie,” was ‘n hartseer Elise Bonnema se reaksie op haar man, die bekende Jan Bonnema van Levubu, se dood op 12 Augustus vanweë Covid-19 komplikasies in die MediKliniek in Tzaneen.

Elise het Dinsdag vertel hoe skielik alles gebeur het. Op Maandag, 2 Augustus, het hulle gegaan vir ‘n Covid-19 toets, nadat hulle verkouerig begin voel het. Hulle moes ook gaan toets, want hulle moes gaan vir hulle tweede immunisasie en mens kan nie positief vir Covid-19 wees as jy gaan inent nie. Ongelukkig vir hulle het beide positief getoets.

“Ek en Liezl [hul een dogter wat by hulle woon] was heeltemal oukei. Ons was nie regtig siek gewees nie. Jan was ook oukei en ons het medikasie gekry. Eers teen Donderdag, 5 Augustus, het hy regtig begin siek word. Sy suurstof het baie begin daal en ons het maar vir hom suurstof by die huis begin gee. Vrydag, 6 Augustus, het ons hom egter Tzaneen MediKliniek toe gevat,” het Elise gesê.

Aanvanklik heel dinge heel goed gelyk vir Jan. Hy het suurstof gekry, sy bloeddruk was reg en hy het geen ander infeksie gehad nie. “Alles het normaal getoets, maar hier by Dinsdag [11de] het hy begin onrustig en angstig raak. Hy het die suurstofpype begin uittrek en toe besluit hulle om hom oor te plaas na die ICU-eenheid. Hulle het vir hom morfien gegee sodat hy kalmer kan word en hom hoëdruk suurstof toegedien,” het Elise gesê.

Volgens Elise het hulle geglo dat sy behandeling werk. Sy het die oggend van sy dood nog die hospitaal geskakel om te hoor of sy moet deurkom. “Ek het nog die oggend met die dokter gepraat, so agtuur, halfnege. Toe sê hy nee wat, hulle is heel tevrede. Hy het ‘n goeie nag gehad, alhoewel hulle kon sien sy infeksietelling het bietjie opgetel. Hulle het hom toe antibiotika begin gee ... ‘n Halfuur later toe bel die hospitaal en sê ek moet asseblief nie deurkom nie, want dit gaan nie die moeite werd wees nie. Die suster het vir my gesê sy voel sleg om dit vir my oor die foon te sê, maar sy wou keer dat ek nie Tzaneen toe jaag om hom te sien nie. Hy is net daarna oorlede. Sy dokter was net so verstom gewees. Sy hart het blykbaar net gaan staan,” het Elise gesê.

Nuus van haar man se skielik dood het as ‘n groot skok gekom vir Elise. “Dit was ‘n baie onvoorsiene ding gewees. Hy wou nog die vorige dag huis toe gekom het. Hy het vir my gesê hy het met die dokter gepraat en die dokter het gesê hy kan nie al die volgende dag huis toe gaan nie. Hy moet nog so ‘n dag of twee wag. So, hy was heeltyd op pad terug huis toe,” het Elise gesê.

Volgens Elise het Jan se dokter ná die tyd vir haar gesê dat wat vir hulle die moeilikste is van die hele situasie, is dat nie een dokter kan voorspel wat die verloop van die siekte gaan wees nie. Die een oomblik word jy baie beter en dan skielik het jy net ‘n verskriklike terugslag,” het Elise gesê.

Wyle Jan was die tweede oudste seun van Hendrik en Minnie Bonnema, wat vanaf 1952 tot 1980 op Levubu geboer het. Hy is op 13 Februarie 1953 in die hospitaal op Lydenburg gebore, nadat sy ma eers op Lydenburg agtergebly het vir sy geboorte terwyl pa Hendrik met die boerdery op Levubu begin het. Jan se ander twee broers, Harm en Hennie, het hom reeds ontval.

Jan het op die plaas grootgeword en sy skoolloopbaan by Laerskool Levubu begin en by Hoërskool Louis Trichardt voltooi. Ná skool en sy verpligte weermagdiens, het Jan landboutegnologie by Pretoria Tegnikon gaan studeer, waarna hy vir ongeveer twee jaar gaan werk het vir Landboutegniese Dienste in Rustenburg.

In dieselfde tyd het Jan se pa begin oud word. Jan het toe besluit dat hy in elk geval nog altyd wou gaan boer het en het sy werk in Rustenburg bedank en sy pa op die plaas gaan help. Dit was in 1976.

Begin van 1979 het Jan vir Elise ontmoet, wat in daardie stadium onderwyser was by Hoërskool Louis Trichardt. In Desember van daardie jaar is die egpaar getroud. “Ons het mekaar by ‘n bosboupartytjie ontmoet, maar ons het vir almal vertel ons het by die kerk ontmoet,” het Elise met ‘n glimlag vertel. “Hierdie jaar sou ons 42 jaar getroud gewees het,” het sy net daarna met hartseer opgemerk.

Vandat die egpaar getroud is, het Elise op Levubu gebly waar sy hul drie kinders, Madeleen, Elmien en Liezl grootgemaak het. “Ek was nie vir een dag spyt gewees nie,” het Elise gesê.

Jan het hoofsaaklik met koejawels, gemmer en piesangs geboer. Hy was geweldig betrokke in die landbou en by die atchar-fabriek op Levubu. Hy was ‘n mentor vir baie en eens ook ‘n direkteur by die destydse Levubu Boerekoöperasie. Hy het ook op die kerkraad van die NG Kerk Levubu gedien. “Hy het regtig nie vyande gehad op Levubu nie. Hy was vreeslik betrokke by alles. Alhoewel hy ‘n baie stil mens was, het hy baie goed met mense oor die weg gekom,” het Elise gesê.  Alhoewel Jan ‘n geruime tyd opgehou boer het, was boer steeds sy passie. Tot met sy dood was hy ‘n bekende gesig by die kunsmisdepot op Levubu.  

“Hy was ‘n baie liefdevolle pa gewees. ‘n Streng, eerlike mens en baie goedhartig. Hy het almal net gehelp waar hy kon, soms ten koste van homself. Hy wou altyd net gee en wou nooit bakhand aan die ontvangkant staan nie,” het Madeleen en Liezl hul pa onthou. “Hy was ‘n absolute familieman gewees en veral lief vir sy kleinkinders,” het Elise bygevoeg.

‘n Roudiens vir wyle Jan word Vrydag, 27 Augustus, om 11:00 vanuit die NG Kerk Levubu-gemeente gehou. Die diens sal lewendig uitgesaai word via die Internet. Die diens sal onderhewig wees aan die nodige Covid-19 regulasies.

Wyle Jan word oorleef deur sy vrou Elise, dogters Madeleen Erasmus (en skoonseun Karel), Elmien Boshoff (en skoonseun Niel in Nieu-Seeland) en Liezl, suster Marina Truter (en swaer Piet), skoonsuster Hannetjie en sewe kleinkinders.

“Ek wil graag vir dr. Pieter Mostert en Tzaneen Medikliniek personeel dankie sê. Hulle diens was uitstaande en hulle medemenslikheid ongelooflik. So ook dankie aan dr. Emil Gaigher. Hulle het regtig baie moeite gedoen,” het Elise gesê. Sy het ook die hele gemeenskap bedank vir hulle ondersteuning en vertroosting.

 

 
 

 
 
 
 
 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: andries@zoutnet.co.za

 
 

More photos...