Hooffoto: Tannie Lettie se geloof in God het verdiep deur die jare. Sy het 'n begeerte vervul om gedurende die sewentigerjare Israel twee keer te besoek. Inlas: Wyle tannie Lettie Mostert (93). Foto's verskaf.

Tannie Lettie het in haar 93 jaar diep spore getrap

Date: 10 September 2021 By: Pétria de Vaal

Viewed: 943

‘n Geliefde legende van die Soutpansberg, tannie Lettie Mostert, is op 2 September aan hartversaking in die ouderdom van 93 jaar oorlede. Haar kleinseun, Sybrand, het vir die laaste bykans 10 jaar na haar omgesien.

Aangesien sy vir só lank in die onderwys was, is sy wel bekend.  Natuurlik was haar man, Sybrand (oorlede op 31 Desember 1999), ook ‘n alombekende boer van die plaas Ashfield, wes van die dorp, waar hulle baie lank gewoon en geboer het.

Aletta Susanna Mostert (née Van der Westhuizen) is op 29 Julie 1928 op Daniëlskuil in die Noord-Kaap as die jongste van 13 kinders gebore.  “Lettie het haar Hoër Onderwysdiploma in 1948 aan die Potchefstroomse Onderwyskollege verwerf, met vakke soos Liggaamlike Opvoeding, Afrikaans en Geskiedenis.” Só onthou Ena Barlow (gebore Mostert), Lettie se 87-jarige skoonsuster wat in Windhoek woon. Hulle was ook al die jare baie goeie vriendinne.

Ena vertel dat Lettie se eerste onderwyspos te Happy Rest Skoolplaas was. Met die uitfasering van die “skoolplaasstelsel” in 1952, is die Senior Schoemansdal Spesiale skool ingestel vir die onderrig van verstandelik gestremde kinders van die Pietersburg- en Waterberg-omgewing. Daarna het die skool verskeie baadjies gehad, onder meer dié van ‘n Nywerheidskool, Veldskool en tans die Schoemansdal Environmental Education Centre.

“Met haar aankoms te Happy Rest het ‘n groot skok op haar gewag toe sy nie slegs liggaamlike opvoeding moes aanbied nie, maar boonop die Graad 1-klas moes behartig. Ten spyte daarvan dat sy geen opleiding hierin gehad het nie, het sy dit met haar kenmerkende wilskrag en leergierigheid en die hulp en ondersteuning van haar ouer kollega, ‘Meester’ Mostert, aangepak. Hy het later haar skoonvader geword. Sy het ontpop in ‘n uitstaande begeleier van klein kindertjies - 'n belangstellingsveld en talent waarvan sy nie bewus was nie. Met haar kleurryke verbeelding is ‘n eerste skoolervaring uniek gemaak -  met verwondering is daar na haar stories geluister,” sê Ena. Sy sê dat, met die verandering na ‘n spesiale skool, Lettie hierdie uitdaging ook aangegryp het. Sy het ‘n positiewe gesindheid ten opsigte van hierdie kinders se behoeftes by almal geweek. Sy het geglo dat daar in enige kind potensiaal is - dit moes net ontdek en ontwikkel word.   

Op 7 Oktober 1950 is Lettie en Sybrand Mostert in die NG Moedergemeente, Louis Trichardt, getroud. Sy het hom tydens haar koshuisverblyf op Happy Rest ontmoet. Hy was bekend in die omgewing vir sy pragtige perde en het nie die kans laat verbygaan om te spog wanneer hy skool toe gery het om “pos te gaan haal” nie. Terselfdertyd is die nuwe juffrou uitgekyk! Só het die boer haar oog gevang en het hul verhouding begin. 

“Ná haar troue het sy voortgegaan met onderwys op Happy Rest. Kinders CB, Brandtie (reeds 19 jaar gelede oorlede) en Sulette het die gesin voltooi. Hierna hou sy skool by Laerskool Louis Trichardt en daarna by Hoërskool Louis Trichardt. Sy beklee 'n senior onderwyspos vir ‘n hele aantal jare, tot met haar aftrede in 1985,” vertel Ena. In hierdie tyd het sy ook op gepaste wyse erkenning van die destydse Transvaalse Onderwysdepartement ontvang - veral vir haar bydrae tot die huishoudkundige vakgebied. Kleinseun Sybrand voeg by dat sy ouma en van haar leerlinge dikwels naaldwerkpryse losgeslaan het.

Huldeblyke van oud-leerlinge stroom in. Alet Potgieter onthou: “Tant Let het ook huishoudkunde gegee en het die ekstra myl saam met haar leerlinge gestap. Sy het ons aangespoor en gemotiveer om hoë standaard werk te lewer.” Hans Schouwstra skryf op Facebook dat, hoewel hulle as seuns nie by haar klas gehad het nie, almal haar geken het. “Met haar glimlag en wie sy was het sy baie mense se lewens aangeraak,” skryf Hans. Jacs van Rooy beskryf haar as ‘n “geliefde legende”.

As sportvrou van formaat het sy uitgeblink in atletiek, tennis en swem en was op kollege al deel van die eerste korfbal- en jukskeispanne. Sy het baie kinders leer swem. Kleinseun Sybrand het op briewe afgekom waar die munisipaliteit haar toestemming gee en swemlestye bevestig wanneer sy die dorp se swembad vir hierdie doel wou gebruik. Lettie se dogter Sulette Roux vertel dat sy hekkies geoefen het deur oor doringdrade te spring. Op dié manier het sy haar kuitspier geskeur toe sy aan ‘n doringdraad vasgehaak het.

Sulette se broer CB deel dat sy ma uit ‘n familie kom wat mekaar altyd poetse gebak het. “Sy was ‘n regte grapjas. Een keer het sy ‘n ou klapperhaarjas met ‘n beer se kop (wat ek in Standerd 4 in ‘n skoolkonsert moes dra in my rol as teddiebeer) aangetrek. Hiermee het sy die tuinwerker teen skemeraand die skrik op die lyf gejaag toe hy ‘n kraan moes toedraai. Hy het sommer bo-oor ‘n hekkie gespring in plaas daarvan om dit oop te maak!” deel CB skertsend.

Lettie het 'n wye belangstelling en aanleg gehad in alle vorme van kunstige handwerk. Sy het boonop groen vingers gehad en haar tuin op die plaas en later in die dorp was altyd ‘n lushof. “Wederhelf Sybrand het altyd, al was water skaars, gesorg dat sy water vir haar tuin kon hê!  Dit was haar terapie, het sy altyd vir my gefluister,” noem Ena. Sybrand vertel trots dat sy ouma ‘n jarelange lid van Louis Trichardt se blommeklub was en het gereeld blommerangskikkings vir troues in die kontrei gedoen.

Ena vervolg dat, gedurende die jare wat die Soutpansberg bittere droogtes ondervind het, Lettie swaarkry leer ken het. Met haar natuurlike optimisme en vele vaardighede het sy bygedra om die lewe draaglik en mooi te maak.  

Benewens al haar verpligtinge, het Lettie ook haar skoonmoeder versorg tot aan die einde van haar leeftyd. Haar geloof in God het verdiep deur die jare. Sy het 'n begeerte vervul om gedurende die sewentigerjare Israel twee keer te besoek. Godsdiensonderrig het een van haar geliefde vakaanbiedings geword. CB onthou dat sy ‘n ongelooflike sterk geloofsmens was. “Sy was vir almal ‘n inspirasie as dit by geloof kom. Hoe moeilik dit ook al gegaan het, sy het bly glo. Sy het ‘n ryk en vol lewe gehad,” sê CB.

Tannie Lettie het, soos die jare verloop het, al hoe meer betrokke geraak by mense in nood. Sy het die kuns verstaan om uit te reik en hoop te gee aan diegene wat hoop verloor het.  Sybrand vertel dat sy ook 'n lid van die Hospitaalraad vir die Louis Trichardt Gedenkhospitaal tussen 1991 en 1994 was.

Juliana Kruger skryf: “Lettie Mostert was een van my beste vriendinne sedert ek in 1979 in Louis Trichardt begin skoolhou het. Voordat ek in 2018/19 daar weggetrek het, het ek haar weekliks besoek en haar onblusbare gees geniet. Hoeveel sakke sout het ons nie saam opgeëet nie! Dit was 'n voorreg om my te verkneukel in al haar staaltjies en haar só al hoe beter te leer ken - van haar swaarkrydae as jong onderwyseressie af. Saam het ons die strate van Louis Trichardt deurkruis om vir die skool en later die handwerkklasse by Kutama-Sinthumule te kollekteer. Niemand het ooit vir haar ‘nee’ gesê nie. Ek sien haar nou by die voete van Jesus, die grootste liefde in haar lewe, nog steeds besig om laggies te ontlok. Rus sag in jou volmaakte, pynlose staat, Lettie!”

Lettie wou altyd hê dat sy (Juliana) 'n boek oor haar (Lettie) se lewe skryf. “Vir so 'n monumentale werk het ek nie kans gesien nie!” sê Juliana.

Johan Kirsten bring ook hulde: “Daar is min mense wat die lewe met soveel passie en oorgawe leef as wat Tannie Let Mostert in haar 93 jaar op aarde gedoen het.” Hy vervolg deur te noem dat, behalwe vir onderwyseres en boervrou wees, sy ook self geboer het. “Sy was ma van CB en Brandtie – opsigself ‘n voltydse werk - en Sulette. Sy was ‘n mentor met ‘n hart vol liefde – veral vir jongmense. Dit was my voorreg om van kleins af by die Mosterts op Ashfield te kuier. In die vroeë 2000’s het Tannie Let dikwels saam met my Pretoria toe en terug gery. Sy het ‘n uitgebreide algemene kennis gehad, maar dit was nie lank voor sy enige gesprek na die Here toe gedraai het nie. As sy enigsins getwyfel het of jy Hom ken, het sy jou van Hom vertel en van haar pad saam met Hom. Menige munisipale amptenaar het hom/haar misgis as hy/sy gedink het Tannie Let is net daar om ‘n lisensie te hernu of ‘n rekening te betaal. As jy ‘n woordjie wou inkry in hierdie gesprekke, sou jy mooi moes mik, want sy het nie lank gevat om asem te skep nie,” vertel Johan.

“Ons is baie dank verskuldig aan Sybrand wat sy ouma met soveel liefde en deernis opgepas het. Ons gaan haar baie mis,” sluit Johan af.

Lettie Mostert laat vir CB Mostert (seun), Sybrand Mostert (kleinseun), Bossie Mostert (kleinseun), DJ Mostert (agterkleinseun), Alnette Schramm (kleindogter), Marius Schramm (agterkleinseun), Erich Schramm (agterkleinseun), Sulette Roux (dogter), Barry Roux (kleinseun) en Albert Roux (kleinseun) agter.

Die begrafnis vind Vrydagoggend, 10 September, om 10:00 plaas vanuit die NG Moedergemeente.

 

 
 

 
 
 
 
 
 

Pétria de Vaal

Email: petria@devaalanddevaal.co.za

 
 

More photos...