ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 60-jarige Patrick Styles (regs) met sy waentjie en kruis het die afgelope Sondag bietjie met gemeentelede van die NG Kerk Soutpansberg kom praat. Saam met hom staan die gemeente se leraar, ds. Etienne van Staden (links).

Patrick stap om Jesus se liefde te deel

Date: 14 November 2021 By: Andries van Zyl

Wat baie mense seker sou beskou as onsinnig is die enigste ding wat die 60-jarige Patrick Styles van Koster in Noordwes in sy lewe as van waarde beskou ... om met sy kruis op sy skouers deur die lengte en breedte van Suid-Afrika te stap en mense te vertel van die Here se liefde.

Patrick het die afgelope naweek in Louis Trichardt aangedoen onderweg na Musina. Hier het hy twee aande se welkome en gratis nagrus geniet by die Fouries se 139 on Munnik gastehuis. Sondagoggend het hy besoek afgelê by die NG Kerk Soutpansberg-gemeente en daar het hy gemeentelede bietjie meer vertel van sy omswerwinge.

Patrick het vertel hoe hy homself in 2013 in ‘n badkamer bevind het en homself gevra het wat meer kan hy vir die Here doen? “Want Hy is elke dag net goed vir my,” het Patrick gesê. Dit was toe dat die Vader die woorde van Matteus 16:24-25 op sy hart gedruk het: “Toe sê Jesus vir sy dissipels: ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry’.”

“Dit is waar ek begin het,” het Patrick gesê. Tot op daardie stadium was hy vir 33 jaar in die mynbedryf. Sedertdien het hy al tussen 30 000 en 40 000 kilometer gestap.

Maar Patrick doen dit nie vir geld of roem nie. “Toe ek begin loop het, het dit oor my gegaan. Wat EK gaan doen en wat EK wil doen. Maar die Here het die hoogmoed van my af weggevat,” het Patrick gesê. Hy vertrou elke dag 100% dat die Here sal voorsien en sy grootste begeerte is om mense van die Here se liefde te vertel. “Dit is baie belangrik om vir mense te sê dat die Here lief is vir hulle,” het Patrick gesê.

Alhoewel hy letterlik duisende staaltjies het om te vertel van sy staptog, het hy twee verhale met Soutpansberg-gemeente gedeel oor die Here se liefde. “Ek het aan die Suidkus geloop op pad Transkei toe. Langs die pad kom ek op ‘n 13-jarige meisiekind af wat weggeloop het van die huis af. Ek het by haar gestop en gevra of alles reg is? Sy het vir my gesê: ‘Nee’. Ek het by haar gaan sit en haar gevra wat gebeur het,” vertel Patrick.

Die meisie het vertel dat sy en haar kêrel by haar ma gebly het. “Die outjie het goed gesteel om sy dwelmgewoontes aan te vul. Die ma het hom uitgevang en weggejaag. Dit was toe dat die meisies vir haar ma gesê het: ‘Maar as hy gaan, gaan ek ook’. Haar ma het toe vir haar gesê as sy haar voete by die hek uit sit, kom sy nooit weer terug nie,” het Patrick gesê.

Die meisie het toe geloop. “Ek het vir haar gesê haar ma is net ‘n ma. Sy het my egter geantwoord: ‘Jy ken nie my ma nie!’ Ek het toe vir haar gebid en gesê sy moet onthou dat die Here haar altyd sal liefhê. Ná dit het sy ingestem om terug te gaan na haar ma toe. Soos die Here dit beskik het, het daar ‘n ou oom en tannie op die pad ingedraai. Ek het hulle gestop en gevra om hulle die meisie ‘n geleentheid terug sal gee na haar huis toe. Hulle het ingestem,” het Patrick gesê.

Wat Patrick nie geweet het nie, was dat dinge aanvanklik nie so goed uitgewerk het terug by die huis nie. Die ma sou hom later daarvan vertel. “Die ma het gesê toe die kar daar stop en sy sien haar kind klim uit, toe ontplof sy! Sy het vir haar kind gesê: ‘Ek het vir jou gesê jy sit nie weer jou voete hier nie!’ Die meisie het egter die ma geantwoord: ‘Ma hoef nie vir my lief te wees nie. Maar ek weet daar is Iemand wat my lief het’. Dadelik was haar ma weer op haar perdjie en wou weet: ‘Wie op aarde sou lief wees vir jou?! Sy het haar ma geantwoord: ‘Daar is ‘n man wat met ‘n kruis loop en hy het gesê Jesus is lief vir my’,” het Patrick vertel.

Net daar het die ma se hart versag en sy en haar dogter het dinge reggemaak. Hulle het tot vir Patrick langs die pad gaan kuier om vir hom dankie te sê.

Tydens ‘n ander geleentheid, het Patrick vertel, dat hy een dag uit Bethlehem gestap het en ‘n BMW in die bos langs die pad sien staan het. Eers het hy niks daarvan gedink nie, maar iets het hom aangeraai om ondersoek te gaan instel. “Ek het my kruis neergesit en na die BMW gehardloop. Toe ek daar kom, sien ek die pyp in die uitlaatstelsel,” het hy gesê. Die motor was aangeskakel gewees. Patrick het die pyp uitgeruk en kon daarin slaag om die motor se deur oop te kry. “Gelukkig was alles nog net in die beginstadium. Ek het die man uit die kar gehaal en hy het begin bykom. Hy het vir my gesê hy het baie seer. Toe sê ek vir hom hy moet onthou die Here is lief vir hom en het hom uniek geskape. Ons het toe saam gebid. Toe ek weer begin loop, het hy vir my gesê hy is reg en het my bedank dat ek daardie dag my kruis gedra het,” het Patrick vertel. Hy en die man, ‘n skatryk sakeman van Bethlehem, is tot vandag toe nog in kontak met mekaar en die man het intussen sy lewe vir Jesus gegee.

Lesers sal dit dalk nie glo nie, maar Patrick is getroud. Op ‘n vraag oor wat sy vrou Desiré oor die stappery sê, was sy antwoord eenvoudig. “Sy bid saam met my. Ek moet noem dat sy al die jare gebid het dat as die Here vir haar ‘n man gee, die man die Here liewer moet hê as vir haar. Sy is my tweede vrou. My eerste vrou, en dit is die waarheid, het ek misgedrink. Dit was voordat ek die Here ontmoet het. Hierdie vrou het my in die kerk in gebid,” het Patrick gesê. Terwyl Patrick stap, hou Desiré haar besig op die egpaar se kleinhoewe buite Koster waar hulle met ‘n paar skapies, varke en hoenders boer. Patrick is ook die pa van drie seuns uit sy eerste huwelik en sewe kleinkinders. Aanvanklik was sy seuns glad nie gelukkig met hul pa se besluit om met die kruis te stap nie. “Maar hulle het vrede gemaak daarmee,” het Patrick gesê.

Tans stap Patrick sowat 40 tot 50 km per dag. Die afgelope Sondag was hy reeds drie weke op die pad. Ná sy aankoms in Musina gaan hy omdraai, net om via Durban tot in die Transkei te stap. “As die Here wil, gaan ek weer daar omdraai, terug Durban toe, en dan Pretoria toe - terug huis toe,” het Patrick gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1467

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT