ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Tiny Sinden (59). Foto verskaf.

Bekende bewaringsman sterf na tweede beroerte

Date: 01 July 2022 By: Andries van Zyl

Die skielike dood van die welbekende Tiny Sinden (59) van Louis Trichardt het as groot skok gekom vir familie en vriende. Hy is die afgelope naweek oorlede ná twee beroertes in minder as ‘n week.

Tiny se steeds hartseer eggenote Leonie het Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê dat haar man verlede Woensdagaand ‘n beroerte gehad op hulle huurplaas Zyfergat (Bandelierkop). Sy was in daardie stadium by haar seun Hardus op ‘n plaas in die Waterpoort-omgewing en was onbewus van die gebeure.

Leonie sê sy het verlede Woensdag omstreeks 19:00 nog met Tiny gepraat. Toe sy hom later die aand weer skakel, kon sy hom nie op sy foon in die hande kry nie. Sy het aangeneem hy het aan die slaap geraak. Nadat sy hom die volgende oggend steeds nie op sy foon kon kontak nie, het sy gevra dat vriende asseblief moet gaan kyk wat aangaan. Die nuus was nie goed nie.

Met Leonie se aankoms op hulle huurplaas het vriende Tiny reeds in ‘n bakkie gelaai. Alle aanduidings was dat hy ‘n beroerte gehad het. “Hy het my ‘n glimlag gegee en ek het hom gedruk daar waar hy in die bakkie gesit het,” het Leonie gesê.

Tiny is opgeneem in die Zoutpansberg Privaathospitaal vir behandeling. Volgens Leonie het sy toestand aanvanklik verbeter. Dit het alles Sondag verander toe Tiny blykbaar ‘n tweede beroerte gekry en ‘n paar uur later gesterf het.

“Ons het soveel planne gehad. Hy het soveel planne met die kinders gehad,” het Leonie gesê.

In die Soutpansberg het Tiny geen bekendstelling nodig nie as gevolg van sy jarelange verbintenis met die Departement van Omgewingsake. Hy en Leonie het in September 1995 na Louis Trichardt verhuis vanaf Putfontein (Benoni) in Gauteng. Alhoewel Tiny se kantoor op Louis Trichardt was, het hy die hele area nou bekend as Vhembe bedien. Hy en Leonie, wat ook in die staatsdiens by museumdienste was, het albei in 2012 vroeë pensioen gevat, Tiny met 30 jaar diens agter sy naam en Leonie met 23 jaar diens.

Tiny het sy diens as “geregsdienaar” vir die Staat in 1984 begin toe hy by die destydse Suid-Afrikaanse Polisie aangesluit het. Ná vyf jaar in die polisie het hy in 1989 sy intrek op Gravelotte geneem, waar hy begin het as natuurbewaarder.

Tiny het ‘n geweldige passie vir natuurbewaring gehad en was uiteraard ‘n streng wetstoepasser, wat nie altyd almal gelukkig gemaak het nie. “Tog was hy altyd regverdig en soveel mense het van hom gehou en was lief vir hom,” het Leonie gesê.

“Ek het meer as 15 jaar saam met hom gewerk. Hy was geliefd deur almal en passievol oor natuurbewaring en die omgewing. Hy het die lewe voluit geniet en hy sal baie gemis word,” het voormalige kollega Alan McMurtrie van die Limpopo Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsake en Toerisme namens homself en die departement gesê.

Tiny en Leonie het ná hulle vroeë aftrede ‘n plaas gekoop buite Laersdrif op die grens tussen Limpopo en Mpumalanga, waar hulle met suikerboontjies en mielies begin boer het. Hulle sou later die plaas uitverhuur, met die huurder wat aangegaan het met die boerdery. Tiny en Leonie het toe weer teruggekeer na die Soutpansberg, waar Tiny hom besig gehou het met hoenderboerdery en ook bestuursplanne vir boere uitgewerk het.

“Mense wat hom geken het, het geweet hy het altyd ‘n ding aan die gang gehad – altyd ‘n grappie om te deel. Hy het altyd gesê hy moet net keer, anders gaan dit beter,” het Leonie met ‘n glimlag haar man onthou.

'n Roudiens vir wyle Tiny vind Saterdag, 9 Julie, om 11:00 vanuit die AP Kerk in Louis Trichardt plaas. Buiten vir sy vrou, seun en dogter, word wyle Tiny ook oorleef deur sy suster Xenia, broer Zander en vyf kleinkinders.

“Moet nooit uitstel om iets saam te doen nie. Doen dit en kry klaar! Tyd is kosbaar,” het Leonie gesê. Sy het die hele Soutpansberg-gemeenskap bedank vir hulle ondersteuning en bystand met Tiny se afsterwe, spesifiek haar kinders, Julian Rossouw, skoonsuster en die mediese personeel.

 

 
 
 

Viewed: 2632

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT