ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Skool soek antwoorde ná bakleiery

Date: 16 February 2024 By: Andries van Zyl

Mnr. Theo Muller, hoof van Hoërskool Louis Trichardt, het Maandag bevestig dat hulle ‘n ondersoek ingestel het na die onsmaaklike gebeure wat ontvou het na afloop van verlede Vrydagaand se middag/aand-atletiekbyeenkoms by Hoërskool Merensky buite Tzaneen.

Triegies was een van ‘n paar skole wat aan hierdie byeenkoms by Merensky, die gasheerskool, deelgeneem het. “Die byeenkoms was gaaf en lekker gewees, maar daar was geen toegangsbeheer gewees nie. So jy kon inry en doen soos jy wil. Daar was baie mense gewees,” het Muller gesê.

Die invloei van mense het blykbaar sporadies insidente tot gevolg gehad. Muller het gesê dat mnr. Magnus Steyn (hoof van Merensky) in ‘n stadium geroep is na so ‘n insident. Volgens Muller het hy later teruggekeer en sy misnoeë uitgespreek dat dit nie eers hulle kinders is wat moeilikheid veroorsaak het nie.

Die mees ontstellende insident die dag was toe beurtkrag om nege-uur die aand begin het. “Ons het op die kop 21:00 klaargemaak, so toe ons begin terugstap karre en busse toe, toe is dit beurtkrag,” het Muller gesê. Dit is toe dat daar ‘n voertuig met leerders van ‘n ander skool, wat nie eers die dag aan die byeenkoms deelgeneem het nie, langs een van Triegies se busse gestop het. Die leerders het uit die voertuig geklim en aan leerders van Louis Trichardt begin stamp en slaan. Muller sê hy weet nie of iets vroeër die dag aanleiding tot die voorval kon gegee het nie, maar volgens inligting is al die betrokke kinders Graad 12-leerders en almal rugbyspelers.

“Ek kan nie vir jou sê hoeveel kinders betrokke was nie. Ek het vanoggend gevra dat die saak ondersoek moet word. Ek het ook gevra dat die onderwysers wat betrokke is en by die busse was vir my verklarings gee. Ons gaan die ding opvolg,” het Muller gesê.

Volgens Muller kon die Triegie-leerders hulle aanvallers blykbaar by naam identifiseer en ook sê van watter skool hulle was. Hy het egter nog nie die betrokke skool se hoof gekontak nie. “Ek wag nog vir al die verklarings en feite. Dan sal ek hom [skoolhoof] skakel,” het Muller gesê. Of enige van die betrokke partye moontlik sake by die polisie aangemeld het, was ook nie duidelik nie. “Dit maak dit moeilik, want dit is maar hoorsê ... ‘n mens moet dit eers kan bewys. Daar moet feite wees,” het Muller gesê.

“Ons loods die ondersoek want ons wil weet watter kinders betrokke is,” het Muller gesê. Hy het bygevoeg dat sou die skuldige leerders positief geïdentifiseer word, Hoërskool Louis Trichardt daarop gaan aandring dat daar teen hulle opgetree word. “Ons gaan vra daarvoor ... dit is nie nodig dat hulle kinders ons kinders kom aanrand nie,” het Muller gesê. Hy het weer genoem dat dit nie Merensky se leerders was wat betrokke was nie.

Buiten vir hierdie onaangenaamheid was daar ook heelwat kinders wat gekla het dat hulle selfone en rugsakke tydens die byeenkoms gesteel is. Baie van hierdie rugsakke was later in ‘n stuk veld agter die paviljoene by Merensky gevind, sonder die waardevolle items daarin. Wat dit betref het Muller gesê dat hierdie tipe diefstalle ongelukkig nie uniek aan die byeenkoms was nie. “Diefstal is maar altyd ‘n probleem. Dit is nie net daar nie. Hier by ons sit ons maar met dieselfde probleem,” het Muller gesê.

Wat dit betref het Muller gesê hulle probeer altyd die leerders bedag maak om nie hulle waardevolle items onbewaak te laat nie. Dit geld veral vir rugsakke en sportsakke wat onbewaak op die paviljoen gelos word. “Dit is onaangenaam, maar ons moet onsself maar reghou vir die goed. Ons het in die verlede ook maar hierdie tipe van goed gehad ... Maar ons het nou toegangsbeheer, so ons beheer dit nou. Ons laat nie kinders met voertuie in nie,” het Muller gesê. Hoërskool Louis Trichardt sal eerskomende Vrydag die gasheer wees van ‘n middag/aand-atletiekbyeenkoms.

Ná verlede Vrydag se onaangenaamheid, het Muller gesê hy het reeds met die leerders en onderwysers gepraat oor toekomstige maatreëls om diefstalle en ander onaangenaamhede te beperk.

 
 
 

Viewed: 2082

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT