ADVERTISEMENT:

 

 
 

In die omsendskrywe sê die skool dat al die veiligheidsreëls ten opsigte van toegang, asook algemene paraatheid, weereens beklemtoon is. “Ons kan u verseker dat die veiligheid van ons skool en leerders nie ligtelik opgeneem word nie,” het die skool gesê. Argief foto.

Kinders se veiligheid bly prioriteit ná insident by Triegies

Date: 22 February 2024 By: Andries van Zyl

Die veiligheid van kinders by skole het verlede Donderdag, 15 Februarie, weer onder die loep gekom ná ‘n insident by Laerskool Louis Trichardt, waar ‘n verdagte persoon die terrein betree het maar te danke aan flinke optrede vinnig vasgetrek en verwyder kon word.

Nadat die skool ‘n kort boodskap aan ouers gestuur het oor die voorval, het die tonge behoorlik geklap. Die boodskap het gelees: “Geagte ouers/voogde. Daar het vandag ‘n verdagte persoon ons terrein betree. Die man is gewaar deur personeel aan diens gedurende pouse. Die personeellid het dadelik die kantoor geskakel en in kennis gestel van die persoon. Die kantoor en personeel het dadelik reageer en die man is aangekeer. Die sekuriteitsmaatskappy was ontbied en die man is verwyder van ons terrein. Niemand is beseer in die voorval. 'n Groot dankie aan die manspersoneel en die sekuriteitsmaatskappy vir hul flinke optrede vandag.”

Alhoewel die situasie vinnig ontlont kon word, het die voorval beslis ‘n paar ouers onrustig gestem oor hulle kinders se veiligheid wanneer hulle by die skool is. Van hulle het die koerant geskakel oor die voorval en gevra of die skool genoeg doen om hulle kinders se veiligheid te verseker.

Die koerant het met die skool se adjunkhoof, mnr. Greg Stewart, oor die aangeleentheid gepraat en daarna het die skool ‘n tweede, meer breedvoerige verklaring in beide Afrikaans en Engels aan ouers uitgereik.

“Ons wil u graag gerusstel ten opsigte van die voorval wat gister by die skool plaasgevind het. Dit wil voorkom asof sommige leerders se verbeelding met hulle weggehardloop het,” lees die aanvangsparagraaf van die skrywe.

In die skrywe word verduidelik dat een van die skool se algemene werkers besig was om aan die buitekant van die skool, in Joubertstraat, te vee. “Die hek was gesluit. ‘n Man het hom genader en versoek dat hy die hek moet oopmaak, want sy werkgewer se bakkie staan by die skool se boonste hek met ‘n bestelling verfkanne wat by die werkswinkel afgelaai moet word. Hy het aangedui dat hy moet help aflaai,” het die skrywe gelees en verder verduidelik dat die algemene werker toe vir die man die hek oopgesluit het. “…maar die man was nog skaars op die terrein, toe hy opgemerk is deur die personeellede gedurende pouse. Die manspersoneel het hom onderskep en oorhandig aan ‘n sekuriteitsmaatskappy. Hy het nie gesteel nie en ook nie eiendom beskadig nie,” het die verklaring vervolg.

In die omsendskrywe sê die skool dat al die veiligheidsreëls ten opsigte van toegang, asook algemene paraatheid, weereens beklemtoon is. “Ons kan u verseker dat die veiligheid van ons skool en leerders nie ligtelik opgeneem word nie,” het die skool gesê. Hulle het ook Defendum Sekuriteitsmaatskappy bedank vir hulle vinnige optrede.

 

 
 
 

Viewed: 2038

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT