ADVERTISEMENT:

 

 
 

As deel van verlede Donderdag se verrigtinge het ds. Jan Pretorius van die Stad op die Berg Gemeente (NG Kerk Louis Trichardt) 'n spesiale oorkonde aan tannie Hettie kom oorhandig. Van links na regs staan Kittie de Bruin (bestuurder van Ons Tuiste), ds. Jan, tannie Hettie, haar seun André en skoondogter Martie.

100 jaar mylpaal vir flinke tannie Hettie Naudé

Date: 16 March 2024 By: Andries van Zyl

Tannie Hettie Naudé van Louis Trichardt het op 7 Maart vanjaar ‘n unieke mylpaal in haar lewe bereik wat bitter min mense beskore is. Sy het haar 100ste verjaarsdag saam met familie en vriende by Ons Tuiste Ouetehuis gevier.

Sieklik is tannie Hettie beslis nie en was sy reeds vroegdag aan die gang om betyds te wees vir haar hare-afspraak. Om besig en aktief te bly is vir haar belangrik. “Moenie sit nie. Wees al die tyd aan die gang. Hou jou kop oop,” het tannie Hettie tydens haar 99ste verjaarsdag opgemerk. Sy lyk besonders goed en jy kon haar verlede Donderdag deur ‘n ring trek. Alhoewel die oë bietjie pla, is die kop nog 100%.

As deel van verlede Donderdag se verrigtinge het ds. Jan Pretorius van die Stad op die Berg Gemeente (NG Kerk Louis Trichardt) ‘n spesiale oorkonde aan tannie Hettie kom oorhandig. Dit lees:

“Toegeken aan Hettie Naudé. Die Stad op die Berg-gemeente NG Kerk Louis Trichardt wil graag sy hartlike gelukwense getuig aan tannie Hettie Naudé met haar 100ste verjaarsdag op 7 Maart 2024. Ons sê dankie

* Aan ons Hemelse Vader vir sy genade en gesondheid die afgelope 100 jaar.

* Vir haar lewe van diens en opoffering aan haar eggenote, kinders, kleinkinders, agterkleinkinders, die gemeenskappe waar sy gewoon en gewerk het, die gemeentes waar sy lidmaat was deur die jare en waar sy met haar gawes gedien het tot eer van die Here.

* Vir haar meelewende deel wees en betrokkenheid in Stad op die Berg Gemeente.

Mag die Drie-Enige-God u seën met goeie gesondheid, voorspoed, genade en vrede in die nuwe lewensjaar. Ons bid Numeri 6:24-26.  Die Here sal u seën en u beskerm. Die Here sal tot u redding verskyn en u genadig wees. Die Here sal u gebede verhoor en aan u vrede gee.”

Tannie Hettie se seun, die baie bekende maar nou afgetrede prokureur André Naudé, het namens sy ma almal bedank wat die dag spesiaal gehelp maak het, veral vir die bestuur en inwoners van Ons Tuiste. “As jy ouer raak, is jou vriendekring en jou netwerk verskriklik belangrik vir jou. Dit is al wat jy oor het in die lewe. En julle is my ma se netwerk. Julle gee betekenis aan my ma se lewe en dit is wonderlik!” het André gesê.

Op ‘n meer persoonlike vlak het André ook sy ma gelukgewens. “Ma het die 100 jaar met lof geloop en ma slaag met lof sover.  Maar dit beteken nie die einde nie. Die lof moet nog aangaan. Ma is nog lekker jonk en ma kan nog vele jare gaan,” het André gesê. “Ma is regtig vir menige ‘n voorbeeld. Die feit dat ons kinders so bymekaar gehou word, is te danke aan ma. Al die kinders en kleinkinders van oral oor was die naweek om ma gewees. Dit wys ma het iets baie suksesvol gedoen, want dit is wat betekenis aan families en vriende gee,” het André bygevoeg.

Tannie Hettie het self ook ‘n paar woorde gespreek. Sy het almal bedank wat gekom het vir die partytjie om haar te vereer, met spesiale dank aan Ons Tuiste bestuurder Kittie de Bruin en haar personeel wat agter die skerms die kuier help reël het. Sy het ook haar vriende bedank wat die oggend daar was. “As jy so oud is, het jy nie meer vriende nie. Almal is dood,” het tannie Hettie geskerts. Sy het ook haar kinders bedank vir alles wat hulle vir haar doen.

Tannie Hettie is op 7 Maart 1924 gebore. As kind het tannie Hettie op ‘n plaas grootgeword in die Hartebeesfontein area. Sy het aan Vereeniging Hoërskool gematrikuleer en was daardie jaar ook hoofmeisie gewees. Op skool was sy ook korfbalkaptein en debatsvoorsitter.

Tannie Hettie is getroud met oom Desmond (Des) Rawlins Naudé, ‘n welbekende sakeman, en was al die jare woonagtig in Johannesburg. Die egpaar was kampioen balsaaldansers, met tannie Hettie wat ook ‘n vernuftige kok was. Sy was ook baie lief om blomme te rangskik. Oom Des het tannie Hettie in November 1988 ná 44 getroude jare saam in die ouderdom van 67 jaar ontval.

André het sy ma sowat 15 jaar gelede gaan haal om by hulle te bly, want haar oë het begin ingee. Vir die afgelope amper vyf jaar is sy ‘n inwoner van Ons Tuiste Ouetehuis.

Ons Tuiste Ouetehuis se oudste inwoner is tannie Dora Cronjé wat, as die Here wil, op 15 September haar 103de verjaarsdag sal vier. Sy is ook lidmaat van die Stad op die Berg Gemeente sedert 1946.

 

 
 
 

Viewed: 1426

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT