ADVERTISEMENT:

 

 
 

Vhembe Distriksmunisipaliteit (Vhembe) het bykans sewe weke geneem om die lek te herstel, nadat ‘n inwoner dit gerapporteer het. Vhembe het nie vrae geantwoord oor waarom dit so lank geneem het nie. Dié foto’s wys die herstelwerk wat Vhembe gedoen het, nadat die boom afgesaag is. Foto’s: Vhembe Distriksmunisipaliteit.

Vrae oor waarom Vhembe so sloer?

Date: 18 April 2024 By: Andries van Zyl

Sowat ses weke gelede het mnr. Tim Fraser van Louis Trichardt besluit om die regte ding te doen en ‘n groot waterlek laer af in die straat waar hy bly aan die Vhembe Distriksmunisipaliteit (Vhembe) te rapporteer. Duisende liters water het in die straat af gestroom en die lek het tot gevolg gehad dat huise hoër op sonder water was.

In Louis Trichardt is droë krane ‘n alledaagse verskynsel, danksy Vhembe se onvermoë om konstante water te verskaf, so as daar lekke is, probeer inwoners dit maar so vinnig as moontlik rapporteer. Maar Vhembe is duidelik nie so vinnig om dit reg te maak nie.

Die waterlek was by 20 Elandstraat in die nuwe uitbreiding en is veroorsaak deur ‘n boom op die sypaadjie. Dié se wortels het blykbaar ‘n waterpyp stukkend gedruk. Vhembe se antwoord hierop was blykbaar om die eienaar van die huis aan te sê om die boom af te saag.

“Maar die boom is op die sypaadjies gewees en dus die verantwoordelikheid van die plaaslike munisipaliteit om af te saag,” het Fraser gesê.

‘n Toutrekkery het toe ontstaan oor wie nou eintlik verantwoordelik is om die boom af te saag voordat die lek reg gemaak kon word. Was dit Vhembe se verantwoordelikheid as waterverskaffer, of die Makhado Munisipaliteit, aan wie die sypaadjie behoort? Vhembe het selfs die saak blykbaar na hulle regsafdeling verwys.

Nodeloos om te sê, vyf weke nadat Fraser die massiewe lek die eerste keer gerapporteer het, het water steeds in die straat af gestroom. In daardie stadium het Fraser die Zoutpansberger geskakel vir hulp. ‘n Navraag oor waarom Vhembe so lank neem om die lek reg te maak, is aan hulle gestuur. Dit was verlede week. Fraser het van sy kant ook deurlopend druk op Vhembe gesit om die lek te herstel.

Maandag het die koerant weer met Vhembe opgevolg. In reaksie het munisipale woordvoerder mnr. Matodzi Ralushai bloot gesê die lek is reggemaak. Hy het geensins uitgebrei op die vraag oor waarom hulle so lank gevat het om daaraan aandag te gee nie.

Soos met die droë krane is Vhembe se traagheid om lekke spoedig te herstel ook ‘n algemene verskynsel, tot groot frustrasie van inwoners. “Dit was maar ‘n rowwe tyd gewees die laaste ses weke. Dit het my R1,500 gekos om water te koop, en toe moes ek nog my munisipale water ook betaal! Dit is frustrerend vir ons ouens om te sien hoe derduisende liter water net uitloop die straat af. Ek het met die eienaar van die betrokke huis ook gesels en hy het vir my gesê hy het ses maande vantevore, toe die probleem net begin het, dit al gerapporteer. So, dit het Vhembe ses maande, amper sewe maande, gevat om daardie probleem reg te stel,” het Fraser gesê.

Ná die lek reggemaak is, het Ralushai ook foto’s van die herstelwerk aan die koerant gestuur. “Ek is net bly ons het weer water,” het Fraser gesê. Vir hoe lank is onseker.

 

 
 
 

Viewed: 865

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT