ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Lina Snyman (51). Foto verskaf.

Familie groet 'liefste vrou en mooiste ma'

Date: 23 July 2021 By: 

Die familie van die 51-jarige Lina Snyman van Louis Trichardt sukkel steeds om haar dood op 12 Julie weens Covid-19 in die MediKliniek in Tzaneen te verwerk.

Lina was welbekend in Louis Trichardt gewees en was jarelank in die mediese bedryf. Vanaf 2008 tot 2015 was sy verpleegster by die Zoutpansberg Privaathospitaal, waarna sy vanaf 2015 tot en met haar dood die bestuurder van die B Braun Dialise Sentrum op Louis Trichardt was.

“Lina. Die kosbaarste engel op aarde, nou die lieflikste engel in die hemel. Die liefste vrou, vroulief. Die mooiste mamma, onvoorwaardelik lief. ‘n Wonderlike sussie en verpleegster van formaat. Die beste vriendin, hartsvriendin. ‘n Ouma, huidig en toekomstig. ‘n Tannie, ‘n tantste tannie. Ons weet sy was funny. Sy was al dié en ongelooflik baie meer vir ons almal,” skryf die familie in ‘n huldeblyk aan haar.

“Sy was amazing, altyd optimisties, ‘n steunpilaar, rolmodel, geneesheer, sterk geaard en altyd daar gereed vir ‘n drukkie. Sy was ‘n lewenslustige avonturier wat lewe ten volle aangepak het en geniet het. Sy was ‘n sorger, en sou ons genees in hierdie moeilike tyd. Daar is nie genoeg woorde in die heelal om haar opreg te beskryf nie, so ook kan woorde nie beskryf die leegste leemte wat sy agter los nie. Van Lina was daar net mooi woorde,” het die familie gesê.

Volgens die familie het Lina almal omring met ware liefde, met haar sagte hart van goud. “‘n Fantastiese sin vir humor, wat almal kon maak lag, glimlag en in kon troos vind. Net so het sy haar eie sprankelende glimlag en lag gedra soos ‘n snoesjassie,” het die familie gesê. Hulle het bygevoeg dat hulle glo sy leef voort in hulle en hulle dra ‘n stukkie van haar saam. “Ons verteenwoordig haar met wie ons is. So weet ons sy sal vir altyd en ewig by ons wees en ons lei. Hierdie is haar legacy, en hierin vind ons troos. Ons gaan jou onbeskryflik mis, Lina Snyman,” het die familie gesê. Hulle het afgesluit met die woorde: ‘n Sonsak is ‘n bewys dat ‘n einde soms net so mooi soos ‘n begin kan wees.

 

 
 
 

Viewed: 1400

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT