ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Louis Trichardt Rugbyklub se eerstespan kort nadat hulle op 15 Julie as algehele wenners van die Limpopo amateur rugbyliga uit die stryd getree het. Hierdie prestasie van hulle het vir hulle ‘n plek besorg in die Gold Cup, 'n nasionale toernooi vir klubspanne. Hulle kom Saterdag, 9 September, te staan teen die Bloemfontein Polisie (Cheetahs) in Bloemfontein. Foto verskaf.    

Geskiedkundige eerste vir rugbyklub

Date: 08 September 2023 By: Andries van Zyl

Geskiedenis sal Saterdag, 9 September, gemaak word wanneer die Louis Trichardt Rugbyklub vir die eerste keer sal deelneem aan die gewilde Gold Cup-rugbytoernooi.

Dié toernooi, wat doodgeloop het gedurende die Covid 19-periode, herleef vanjaar danksy ‘n welkome borgskap van Patrice Motsepe. Motsepe, wat reeds welbekend is vir sy borgskap van sokker op nasionale vlak, het nou ook finansiële steun gegee om klubrugby op nasionale vlak te bevorder.

Louis Trichardt se eerste rugbyspan het op grond van hulle prestasie in die Limpopo amateur rugbyliga gekwalifiseer vir die toernooi. Hulle het vanjaar as algehele wenners van die liga uit die stryd getree toe hulle op 15 Julie met ‘n telling van 25-19 met Potties se eerstes afgereken het. Die twee beste eerstespanne van al die kleiner streke en provinsies is gekies om deel te neem aan die toernooi. Die Northam Rhinos is die ander Limpopo-span wat vir die Gold Cup gekwalifiseer het.

In totaal neem 32 spanne aan die toernooi deel op ‘n enkelronde uitklopbasis, wat beteken dat as ‘n span een wedstryd verloor, is hy uit. Die 32 spanne is verdeel in twee groepe van 16 spanne wat in ‘n noord- en suid-liga deelneem. Die laaste oorblywende span in elke streek sal dan teen mekaar in die finaal van die liga te staan kom.

Op ‘n vraag of Louis Trichardt se manne reg is vir die uitdaging het klubvoorsitter Brian du Plooy gesê dat om die ouens weer bymekaar te kry nie so maklik was nie. “Ons het agt weke laas gespeel. Die Carlton-liga het nou eers klaar gemaak en ek dink hulle het eers daarvoor gewag. Dit gesê, oefen ons die afgelope twee weke darem weer met ‘n vol span. Ek dink die manne is reg,” het Du Plooy gesê.

Louis Trichardt se eerste (en hopelik nie laaste) kragmeting in die liga is eerskomende Saterdag, 9 September, teen Bloemfontein Polisie (Cheetahs) in Bloemfontein. “Dit is ‘n onbekende span vir ons, maar ons staan nie terug vir enige van die spanne nie,” het Du Plooy gesê.

Volgens Du Plooy sien die Louis Trichardt manne uit na hulle wedstryd. “Dit is vir ons ‘n groot eer en prestasie om onsself te gaan meet teen ander provinsies om te bepaal op watter vlak ons rugby is. Maar ons weet dit gaan ‘n taai stryd wees want op daardie vlak is daar nie maklike spanne nie,” het Du Plooy gesê.

Die Louis Trichardt Rugbyklub het sover ‘n fantastiese 2023 seisoen agter die rug. Buiten dat die klub se eerstespan op 15 Julie as algehele wenners van die provinsiale amateurliga uit die stryd getree het, was die klub se tweedespan ook algehele wenners van die liga nadat hulle 53-0 afgereken het met die tweedes van Kruinies (Polokwane). Hierdie was die eerste keer dat beide die klub se eerste- en tweedespan dit kon regkry. Die klub se derdespan het tweede gekom in die liga. “Dit wys dat ons ‘n baie sterk klub is in hierdie stadium, van waar hy was en tot waar hy gekom het. Dit is alles te danke aan die toewyding van die bestuur, afrigters en die spelers. Was dit ook nie vir ons ondersteuners nie, so ons ook nie vanjaar soveel groot spanne kon pakgee nie,” het Du Plooy gesê.

Teen druktyd kon nie bevestig word waar en wanneer hierdie wedstryd uitgesaai gaan word nie.

 

 
 
 

Viewed: 2545

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT