ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Louis Trichardt Rugbyklub se eerste span. Foto verskaf (argief). 

Bloemfontein Polisie net-net te sterk vir Louis Trichardt

Date: 15 September 2023 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt se eerste rugbyspan het Saterdag, 9 September, hulle goed van hulle taak gekwyt in hulle Gold Cup-wedstryd teen Bloemfontein Polisie in Bloemfontein, maar was ongelukkig om 24-31 in die doodsnikke van die wedstryd te verloor.

Geskiedenis is gemaak toe die Louis Trichardt Rugbyklub se eerstespan gekwalifiseer het vir deelname aan die Gold Cup-rugbytoernooi. Dié toernooi, wat doodgeloop het gedurende die Covid 19-periode, het vanjaar herleef danksy ‘n welkome borgskap van Patrice Motsepe. Motsepe, wat reeds welbekend is vir sy borgskap van sokker op nasionale vlak, het nou ook finansiële steun gegee om klubrugby op nasionale vlak te bevorder.

Louis Trichardt se eerstes het op grond van hulle prestasie in die Limpopo amateur rugbyliga gekwalifiseer vir die toernooi. Die twee beste eerstespanne van al die kleiner streke en provinsies is gekies om deel te neem aan die toernooi. In totaal neem 32 spanne aan die toernooi deel op ‘n enkelronde uitklopbasis, wat beteken dat as ‘n span een wedstryd verloor, is hy uit.

“Genade! Dit was ‘n naelbyter wedstryd gewees!” het die klub se voorsitter, Brian du Plooy, gesê.

Louis Trichardt se haker David Mandiwana het die dorp se eerste drie in die eerste helfte van die wedstryd gedruk. Die drie is verdoel deur skrumskakel Louis Fourie. Fourie het ook ‘n strafskop suksesvol deur die pale gestuur en teen halftyd was die telling 12-10 in Bloemfontein Polisie se guns.

Louis Trichardt het goed teruggekom in die tweede helfte, met twee vinnige drieë na mekaar wat telkens deur Fourie verdoel is. Die driedrukkers was Rasenge Kubayi (senter) en Walter Pretorius (slot). Laasgenoemde het as plaasvervanger slot opgekom.

“Ons het in die laaste minuut of twee ‘n drie reg langs die pale gedruk wat deur die skeidsregter toegeken is. Dit sou gemaak het dat ons gelykop sou speel, waarna ons in ekstra tyd sou ingaan. Maar die lynregter het gekom en gesê ons het die bal aangeslaan en die drie is nie toegeken nie. In ons oë het ons dus gelykop gespeel en in ekstra tyd sou ons hulle definitief gedreun het,” het Du Plooy gesê.

Louis Trichardt het dit so amper-amper nie eers tot in Bloemfontein gemaak nie. “Dit was ‘n ver reis van oor die 800 km. Dinge het nie altyd lekker geloop nie, want ons bus het nie opgedaag nie. Op die laaste nippertjie moes die manne hier vinnig voertuie en koppe bymekaar sit om deur te gaan Bloemfontein toe,” het Du Plooy gesê.

Volgens Du Plooy was dit vir hulle ‘n groot voorreg gewees om in die liga te speel en het hulle baie ondervinding opgedoen. “Ons sien uit na die volgende liga wat volgende jaar begin,” het Du Plooy gesê. Kubayi was die enigste speler van Louis Trichardt wat ‘n besering opgedoen het. Hy het sy een bisepspier agter die elmboog geskeur, maar het steeds voortgegaan om te speel.  

 

 
 
 

Viewed: 2041

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT