ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Krieketklub skop bedrywige T10-liga af

Date: 21 September 2023 By: Andries van Zyl

Die Louis Trichardt Krieketklub het die afgelope naweek hulle nuutste T10-liga afgeskop, met twee wedstryde wat Saterdag beslis is en drie wedstryde op Sondag by die Louis Trichardt Ovaal.

In Saterdag se wedstryd tussen die Warriors en die Soutpansberg Killers was dit die Warriors wat naelskraap met ‘n enkele lopie gewen het. Die Warriors het eerste ingegaan om te kolf en 90 lopies vir die verlies van nege paaltjies in hulle 10 beurte aangeteken. Ashraf Padarwala en Suffiyan Dala was die enigste kolwers wat dubbelsyfers kon aanteken, met tellings van onderskeidelik 16 en 32. Vir die Killers het bouler AC Geldenhuys drie paaltjies platgetrek, met spanmaat Ruan van Tonder wat twee paaltjies kon inpalm en Zander Vollgraaff, Dewald Joubert, Lukas Visser en Julius Kemp wat elk een paaltjie geneem het.

Die Soutpansberg Killers het dapper geveg, maar op 89 lopies vir die verlies van sewe plaatjies in hulle kolfbeurt geëindig. Dubbelsyferbydraes met die kolf is gelewer deur Dewald Joubert (15), Zander Vollgraaff (10) en Ruan van Tonder (20). Vir die Warriors het Ashraf Padarwala en Francois Nel elk twee paaltjie platgetrek, met enkelpaaltjies deur Brendon Bouwer, Ashfak Khota en Jacques Burger.

Saterdag se tweede wedstryd was tussen Premjee en Junedi XI, met Premjee wat met 17 lopies gewen het. Premjee het in hulle kolfbeurt beïndruk met ‘n skitterende 60 lopies (nie uit nie) deur Parwesh Kota en spanmaat Andil, wat 39 lopies (nie uit nie) aangeteken het. Yesur Patel het 18 lopies bygedra vir ‘n telling van 125 vir die verlies van twee paaltjies. Umer Rana was die enigste bouler wat ‘n paaltjie vir Junedi XI kon neem.

Junedi XI kon net 108 lopies vir die verlies van vyf paaltjies in hulle tien beurte bymekaarskraap met dubbelsyferbydraes deur Husein Dewan (19), Umer Rana (22), Aabid Manch (18 nie uit nie) en Irfan Patel (32 nie uit nie). Vir Premjee het Usman Kota en Tosif Kaba elke twee paaltjies en Moshin Khota een paaltjie geneem.

Sondag het die Warriors teen Premjee te staan gekom, met Warriors wat weer koning gekraai het. Premjee het eerste gekolf en 87 vir die verlies van vier paaltjie aangeteken. Dubbelyfers is aanteken met die kolf deur Yesur Patel (24), Akib Patel (18) en Hafiji Shanavas (14 nie uit nie). Vir die Warriors het Frans Lottering drie paaltjies ingeoes, met Brendan Bouwer wat een paaltjie kon vat.

Warriors se kolwers was goed op dreef, met ‘n telling van 68 (nie uit nie) deur Hassan Dewan. Suffiyan Dala het 10 lopies aangeteken en Adriaan van Zyl 13 (nie uit nie). Slegs Tosif Kaba kon vir Premjee ‘n paaltjie neem, en met ‘n telling van 92/1 het die Warriors met nege paaltjies gewen.

In die wedstryd tussen die Strikers en Limpopo Melkery was dit Limpopo wat met ses paaltjies gewen hett. Die Strikers kolwers kon 103/6 aanteken, met dubbelsyferbydraes vanaf die kolf deur Jeremy Rademeyer (13), Christo Boshoff (29) en Paulo Piorek (19 nie uit nie). Vir Limpopo het Joubert Fourie twee paaltjies platgetrek en Brian Vermeulen, Brendan Bruce en TG Fourie elk een paaltjie.

Limpopo het goed gekolf, met dubbelsyferbydraes deur Leon Olwage (17), Leon Furstenburg (11), Juan-Michael Phillips (40 nie uit nie) en Brian Vermeulen (26 nie uit nie). Hulle het geëindig op ‘n telling van 104/4 in 8.5 beurte. Vir die Strikers het Christo Boshoff twee paaltjies gevat, met Paulo Piorek en Jeremy Rademeyer wat elk met een paaltjie kon plattrek.

Die derde wedstryd Sondag was tussen Hoërskool Louis Trichardt (Triegies) en die , met laasgenoemde wat met nege paaltjies geseëvier het. Triegies het 113/3 aangeteken in hulle kolfbeurt, met dubbelsyferbydraes deur kolwers Brendan Bruce (50), Fahan Khoja (24 nie uit nie) en Jody Buys (13). Vir die Killers het AC Geldenhuys, Lukas Visser en AJ Janse van Rensburg elk een paaltjie ingeoes.

Die Killers se kolwers het geen tyd gemors nie en die wenlopies (117/1) in 7.5 beurte aangeteken met dubbelsyferbydraes met die kolf deur AC Geldenhuys (56 nie uit nie), Lukas Visser (38) en Zander Vollgraaff (18 nie uit nie). Slegs Jody Buys kon een paaltjie vir die opposisie neem.

Wat die langnaweek se wedstryde betref, kom Limpopo en Junedi XI op 23 September om 13:30 teen mekaar te staan, terwyl die Strikers en RCI mekaar om 15:30 sal pak. Sondag (24ste) sal drie wedstryde beslis word, naamlik Triegies vs Strikers om 11:30, Limpopo vs die Killers om 13:30 en RCI vs die Warriors om 15:30. Maandag sal ook drie wedstryde plaasvind. Om 11:30 kom RCI teen die Killers te staan. Om 13:30 pak die Strikers en Premjee mekaar, en om 15:30 sal die Warriors vir Junedi XI aandurf.

  

 

 
 
 

Viewed: 1635

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT